Friday, 08 June 2007

O, Moenie Heyl nie

Woensdagaand is ons na die plek waar alle Bloemfonteiners ten minste een keer per jaar kom: Ilanga Estate, die plek van troues, onthale, koue kos, jaareindes en allerhande vervelige funksies. Hierdie keer sou ons aangenaam verras word.

Ons het gaan luister na Allan Heyl, laaste lewende lid van die Andre Stander-bende. Hy is in 2005 vrygelaat na altesaam 27 jaar in die tronk. Dit is duidelik dat 27 jaar 'n goeie typerk is om in die tronk te wees: Na 27 jaar kom jy beter, ryker en beroemder daar uit. Vra vir Nelson Mandela.

Met die inkoms in die saal, was die eerste ding wat jy opmerk die leerbaadjies: alle soorte - mooies, duur, goedkoop, nuut, oud, baie oud, en selfs die berugte patch-leather modelle. Die vrouens was in die minderheid en was net so goeie weergawe van die deursnee Bloem-crowd. Die langs ons was ten minste so sterk soos hulle koffie en haarsproei.

Allan Heyl se storie is interessant en aangrypend. Depressie, baie lae selfbeeld en sy intelligensie het hom in 'n spiraal van negatiwiteit laat verval wat uiteindelik tot misdaad gelei het. Die emosies en sy vroeƫre gemoedstoestand sal bekend wees aan elkeen wat al aan homself getwyfel het of depressief was, dus bykans 90% van ons. Dit, tesame met die druk wat hy, meestal onnodig, ervaar het, het sy redenasievermoƫns laat inkonk. Die manier hoe misdadigers hul dade kan regverdig, maar veral hoe vinnig en maklik hulle verslaaf raak aan die adrenalien, die mag en ook die vrees wat hulle gewaar in hulle slagoffers, is werklik ontstellend, veral as mens dit deurtrek na SA se huidige misdaadsituasie.

Hy het Stander in die tronk ontmoet en nadat hulle ontsnap het, het hulle saam met Patrick McCall banke nonchalant beroof - in een 3-weke tydperk sommer 20! Lees gerus hulle storie. Heyl het landuit gevlug (Engeland toe), daar goed geleef tot sy fonteintjie van kontant opgedroog het en is toe gearresteer nadat hy 'n wag van 'n geldtrommel beroof het. In die Britse tronk het 'n maatskaplike werker tot hom deurgedring deur bloot in hom te glo en hom menswaardig te laat voel. Hy het homself aan sy veters opgetrek, filosofie bestudeer, tot bekering gekom en eindelik "gedraai". Toe hy 'n "oorplasing" SA toe gekry het om die res van sy tronkstraf uit te dien, het hy aktief betrokke geraak by die rehabilitasie van ander misdadigers. Nooit weer sou hy aan ontsnap dink nie. Hy is in 2005 vrygelaat en is innig spyt dat hy 25 jaar van sy lewe weggesmyt het. Maar hy is nou 'n kragtige voorbeeld dat maak nie saak hoe donker en diep jou put is nie, daar is altyd hoop.

Hy is deesdae 'n motiveringspreker, maar anders as iemand soos Mike Lipkin, inspireer hy nie deur aansteeklike, dog verbygaande entoesiasme nie, maar eerder deur sy eerlike boodskap wat hy sommer so padlangs vertel en waarmee ek kon identifiseer.

Andries en Tina wat die aandjie organiseer het ten bate van 'n kerkfonds, verdien 'n pluimpie vir 'n verrykende wintersaand.

Die groot nuus vir die komende week is dat Inge Sondag 10 Junie verjaar en dat Caramellos weer Maandag heropen. Twee redes om feestelik te wees - Jipiee!

1 comment:

Unknown said...

kom ons nooi hom wembley toe annie