Friday, 01 June 2007

Inent, ensovoorts

Maandag was toe die gevreesde dag: Cara se inenting. Met Panado-stroop in neem ons Cara kliniek toe. Ek is angstig, want twee inspuitings is erg vir so klein mensie. Moenie glo nie, so paar snikke later, is ons met 'n slapende baba weer uit. Die volgende ma was baie dankbaar vir ons kleintjie se dapperheid, want toe kon sy haar telg gerusstel: "Sien jy, dit was nie eers seer vir die klein babatjie nie". Pa en Ma was nie bietjie trots nie.

'n Paar dae vantevore het daar toevallig 'n paar emails in ons inboks beland wat waarsku op 'n moontlike verband tussen inenting en onder andere outisme. By nadere ondersoek kon ons darem vasstel dat daar geen wetenskaplike studies is wat die verband kon bewys nie en dat die groot sondebok, Dr. Wakefield van Engeland, se navorsing onlangs gediskrediteer is. Een van die preserveermiddles wat gebruik is, thiomersal, het die blaam gekry vir hierdie waargeneemde reaksies. Vandag word dit nie meer gebruik nie, sover ek kon vasstel. Ek het ook gedink aan kinders wat ek as kind gesien het wat met misvormde ledemate as gevolg van polio sit, en besef dat inenting in Afrika 'n moet is. Te veel mense ly nog daagliks aan veral TB, meningitis en Hepatitis B. Dit is juis vanweë grootskaalse inentingsveldtogte in die verlede dat siektes soos pokke, pampoentjies, masels en polio vandag ongehoord is. In Wallis het 'n paar jaar gelede, na Dr. Wakefield se bevindinge, weer pampoentjies uitgebreek toe hondered ma's geweier het om hulle kinders met die MMR-entstof in te ent. 'n Duidelike bewys dat inenting nog 'n plek selfs in die eerste wêreld het. (Ek weet party Engelse sien Wallis nie as eerste-wêrelds nie, maar hey, dis steeds jare voor SA).

Cara bly steeds vir ons 'n groot bron van plesier. Ons dink graag sy is 'n gelukkig-tevrede baba. Veral in die oggende is sy ougat en sorg haar muf-geslaapte lyfie vir teer en spesiale oomblikke. Ek vind dit nou moeilik om terug te dink aan 'n tyd toe ek gewonder het of kinders die moeite werd is. Nou weet ek, ja, elke dag. Mens leer so baie by hulle, wel ekke veral. Ek kan ritse diep gesprekke voer deur na lesse/idiome te verwys wat ek tydens ouerskap leer:

  • Selfs vir 'n suksesvolle mens, is daar geen groter prestasie as om 'n huilende baba te kalmeer nie.
  • Jy gril nie vir jou eie kind se doek nie, al stink alle kinders se doeke.
  • As jy doeke omruil, sal jy een of ander tyd be-pie word.
  • Jy sal nooit weer so gelukkig wees toe jy net op liefde, melk en sorg gedy het nie.
  • Dit is 'n voorreg om te kan gee en niks in ruil te verwag nie.
  • 'n Huilende baba maak selfs die opgeruimdste mens moedeloos.
  • Dit is belangrik om die eenvoudigste take steeds noukeurig af te handel. (e.g. formule melk aan te maak)

Wat gaan aan met die weer van ons? Snerpende koue (-6C), is gevolg deur warm dae (24C) en toe gister deur welkome reën. Uit vrees vir kragonderbrekings het ons 'n gasverwarmer aangeskaf. Wat 'n vreugde! Moes dit al lankal gedoen het.

Saterdag braai ek en Trevor weer wors en kyk daarna na 'n Engelse kunsie wat hulle reeds by Majuba geleer het: Hoe om in die hardloop te skyt.

No comments: