Sunday, 10 June 2007
Friday, 08 June 2007
O, Moenie Heyl nie
Woensdagaand is ons na die plek waar alle Bloemfonteiners ten minste een keer per jaar kom: Ilanga Estate, die plek van troues, onthale, koue kos, jaareindes en allerhande vervelige funksies. Hierdie keer sou ons aangenaam verras word.
Ons het gaan luister na Allan Heyl, laaste lewende lid van die Andre Stander-bende. Hy is in 2005 vrygelaat na altesaam 27 jaar in die tronk. Dit is duidelik dat 27 jaar 'n goeie typerk is om in die tronk te wees: Na 27 jaar kom jy beter, ryker en beroemder daar uit. Vra vir Nelson Mandela.
Met die inkoms in die saal, was die eerste ding wat jy opmerk die leerbaadjies: alle soorte - mooies, duur, goedkoop, nuut, oud, baie oud, en selfs die berugte patch-leather modelle. Die vrouens was in die minderheid en was net so goeie weergawe van die deursnee Bloem-crowd. Die langs ons was ten minste so sterk soos hulle koffie en haarsproei.
Allan Heyl se storie is interessant en aangrypend. Depressie, baie lae selfbeeld en sy intelligensie het hom in 'n spiraal van negatiwiteit laat verval wat uiteindelik tot misdaad gelei het. Die emosies en sy vroeëre gemoedstoestand sal bekend wees aan elkeen wat al aan homself getwyfel het of depressief was, dus bykans 90% van ons. Dit, tesame met die druk wat hy, meestal onnodig, ervaar het, het sy redenasievermoëns laat inkonk. Die manier hoe misdadigers hul dade kan regverdig, maar veral hoe vinnig en maklik hulle verslaaf raak aan die adrenalien, die mag en ook die vrees wat hulle gewaar in hulle slagoffers, is werklik ontstellend, veral as mens dit deurtrek na SA se huidige misdaadsituasie.
Hy het Stander in die tronk ontmoet en nadat hulle ontsnap het, het hulle saam met Patrick McCall banke nonchalant beroof - in een 3-weke tydperk sommer 20! Lees gerus hulle storie. Heyl het landuit gevlug (Engeland toe), daar goed geleef tot sy fonteintjie van kontant opgedroog het en is toe gearresteer nadat hy 'n wag van 'n geldtrommel beroof het. In die Britse tronk het 'n maatskaplike werker tot hom deurgedring deur bloot in hom te glo en hom menswaardig te laat voel. Hy het homself aan sy veters opgetrek, filosofie bestudeer, tot bekering gekom en eindelik "gedraai". Toe hy 'n "oorplasing" SA toe gekry het om die res van sy tronkstraf uit te dien, het hy aktief betrokke geraak by die rehabilitasie van ander misdadigers. Nooit weer sou hy aan ontsnap dink nie. Hy is in 2005 vrygelaat en is innig spyt dat hy 25 jaar van sy lewe weggesmyt het. Maar hy is nou 'n kragtige voorbeeld dat maak nie saak hoe donker en diep jou put is nie, daar is altyd hoop.
Hy is deesdae 'n motiveringspreker, maar anders as iemand soos Mike Lipkin, inspireer hy nie deur aansteeklike, dog verbygaande entoesiasme nie, maar eerder deur sy eerlike boodskap wat hy sommer so padlangs vertel en waarmee ek kon identifiseer.
Andries en Tina wat die aandjie organiseer het ten bate van 'n kerkfonds, verdien 'n pluimpie vir 'n verrykende wintersaand.
Die groot nuus vir die komende week is dat Inge Sondag 10 Junie verjaar en dat Caramellos weer Maandag heropen. Twee redes om feestelik te wees - Jipiee!
Friday, 01 June 2007
Inent, ensovoorts
Maandag was toe die gevreesde dag: Cara se inenting. Met Panado-stroop in neem ons Cara kliniek toe. Ek is angstig, want twee inspuitings is erg vir so klein mensie. Moenie glo nie, so paar snikke later, is ons met 'n slapende baba weer uit. Die volgende ma was baie dankbaar vir ons kleintjie se dapperheid, want toe kon sy haar telg gerusstel: "Sien jy, dit was nie eers seer vir die klein babatjie nie". Pa en Ma was nie bietjie trots nie.
'n Paar dae vantevore het daar toevallig 'n paar emails in ons inboks beland wat waarsku op 'n moontlike verband tussen inenting en onder andere outisme. By nadere ondersoek kon ons darem vasstel dat daar geen wetenskaplike studies is wat die verband kon bewys nie en dat die groot sondebok, Dr. Wakefield van Engeland, se navorsing onlangs gediskrediteer is. Een van die preserveermiddles wat gebruik is, thiomersal, het die blaam gekry vir hierdie waargeneemde reaksies. Vandag word dit nie meer gebruik nie, sover ek kon vasstel. Ek het ook gedink aan kinders wat ek as kind gesien het wat met misvormde ledemate as gevolg van polio sit, en besef dat inenting in Afrika 'n moet is. Te veel mense ly nog daagliks aan veral TB, meningitis en Hepatitis B. Dit is juis vanweë grootskaalse inentingsveldtogte in die verlede dat siektes soos pokke, pampoentjies, masels en polio vandag ongehoord is. In Wallis het 'n paar jaar gelede, na Dr. Wakefield se bevindinge, weer pampoentjies uitgebreek toe hondered ma's geweier het om hulle kinders met die MMR-entstof in te ent. 'n Duidelike bewys dat inenting nog 'n plek selfs in die eerste wêreld het. (Ek weet party Engelse sien Wallis nie as eerste-wêrelds nie, maar hey, dis steeds jare voor SA).
Cara bly steeds vir ons 'n groot bron van plesier. Ons dink graag sy is 'n gelukkig-tevrede baba. Veral in die oggende is sy ougat en sorg haar muf-geslaapte lyfie vir teer en spesiale oomblikke. Ek vind dit nou moeilik om terug te dink aan 'n tyd toe ek gewonder het of kinders die moeite werd is. Nou weet ek, ja, elke dag. Mens leer so baie by hulle, wel ekke veral. Ek kan ritse diep gesprekke voer deur na lesse/idiome te verwys wat ek tydens ouerskap leer:
- Selfs vir 'n suksesvolle mens, is daar geen groter prestasie as om 'n huilende baba te kalmeer nie.
- Jy gril nie vir jou eie kind se doek nie, al stink alle kinders se doeke.
- As jy doeke omruil, sal jy een of ander tyd be-pie word.
- Jy sal nooit weer so gelukkig wees toe jy net op liefde, melk en sorg gedy het nie.
- Dit is 'n voorreg om te kan gee en niks in ruil te verwag nie.
- 'n Huilende baba maak selfs die opgeruimdste mens moedeloos.
- Dit is belangrik om die eenvoudigste take steeds noukeurig af te handel. (e.g. formule melk aan te maak)
Wat gaan aan met die weer van ons? Snerpende koue (-6C), is gevolg deur warm dae (24C) en toe gister deur welkome reën. Uit vrees vir kragonderbrekings het ons 'n gasverwarmer aangeskaf. Wat 'n vreugde! Moes dit al lankal gedoen het.
Saterdag braai ek en Trevor weer wors en kyk daarna na 'n Engelse kunsie wat hulle reeds by Majuba geleer het: Hoe om in die hardloop te skyt.
Friday, 25 May 2007
Dis mos nou 'n lapa!
"Oe, om 'n lapa te hê". Menige ware Afrikaner se groot versugting. Maar dit hoef nie net 'n droom te bly nie. Met 'n pen en papier, teerpale, klinkerstene en baie gras kan enigeen 'n windmaker-lapa bou, soos duidelik uit hierdie fotos blyk. Die pen en papier vir planne is opsioneel. 'n Vinnige skets agter op 'n pakkie 30 is meer as voldoende, want jy gaan dit mos sommer self bou. So het baie huise in die suburbs 'n lapa lank voor die eienaar dink aan 'n tweede badkamer of uittreeannuiteite.
Hierdie spoggerige lapa het ek in Fichartpark gewaar. Sy baas is duidelik nie iemand wat klein dink nie. Wat nie te sien is in die fotos, is die Springbokvlag en 'n LION-banier. Bier en rugby is sekerlik twee passies in die trotse eienaar se lewe. Ek is seker daar is iewers 'n ou SA- en dalk ook 'n Vrystaatvlag. Die uiterlike statuur van die konstruksie dui op 'n sleeper-kroeg aan die binnekant wat deur al die vriende beny word. Agter die kroeg is daar ten minste 'n afdruk van Joel Stranksy se drop in 1995, dalk 'n paar bokkoppe, kepse en 'n getekende foto van 'n seëvierende Cheetah-span. Dit ly nie twyfel dat daar Saterdae-aande tot ounag gekuier word op partytjiestaatmakers soos "Lekker Stoutgat Treffers", Patroos Lewis, Die Campbells en deesdae Bok van Blerk nie. Hier word SAB en Klipdrift ondersteun. Mamma sorg vir peanuts, chips en dip voor daar wors gebraai word. Die skoorsteen vir die binne-braai wys middelvinger vir almal wat aan onbenullighede soos herverkoopwaarde en estetika dink. Buitendien, niemand mors met iemand wat sy eie devilsfork sweis en sy doublecab self diens nie.
Soek self die volgende suburb-elemente: sementheining, kamma-palmboom, 'n opslaanafdakkie vir die ventertjie, aanbrouing met verskillende stene en 'n selfgemaakte hek vir die jaart met 'n gaping waardeur die boerboele gevaar van ver kan sien kom.
Hierdie is heel gereeld die mense wat ons karre diens, ons riole se verstoppings regmaak, ons DIY vir ons doen, heinings opsit en oor die algemeen die dinge doen wat ons nie kan doen of voor kans sien nie. Dit is die mense wat hulle werk deur regstellende aksie verloor het en nou noodgedwonge 'n tweede asem moes soek deur sy eie baas te word. Dit is die mense wat maklik as kommon geklassifiseer word. (Ons volkie dink mos maklik ons is beter as ons naaste). Maar dit is die mense wat betrokke by hulle kinders se opvoeding is, wat nie "kannie" ken nie en wat 'n groter kans het om gelukkig te wees as die wat blink karre ry, oorsee vakansie hou en in Euwelsig of Duimpie Naar woon. Hy is trots op sy lapa en dit is sy vesting teen die nuwe SA.
Friday, 18 May 2007
Cara is op die rol!
Vandag is ons na die pediater, Dr. Reynecke, vir Cara se ses weke ondersoek. Wat 'n aangename man. Cara groei soos 'n pampoenrank en weeg nou 5.6kg. Sy het 3.3kg met geboorte geweeg. Die pediater is tevrede en ons is trots. Life is (mostly) good.
Wie kan die klein kinders nie waardeer nie? Al is hulle totaal van ons afhanklik, gee hulle ons so baie.
Ons het ook vandag haar geboortesertifikaat gekry. Sy is dus nou in die sisteem. Pres. Thabo, jy beter hierdie land vir haar regmaak. Ons is nie tevrede met die stand van sake nie.
Thursday, 17 May 2007
Skandes in die kinderkamer
Monday, 14 May 2007
Êrens in Clarens
Reinier word toe 40 en hy lyk nie 'n dag ouer as 39. Vir die groot geleentheid is ons na daardie goed-ontdekte juweeltjie in die Oos-Vrystaat, Clarens. Dit is die beste tyd van die jaar om te gaan want die jaar word mos nou "ryp in goue akkerblare". 'n Kaboedel gawe mense, insluitend 'n kookwater jazzband daag op. Tot my verbasing vir 'n Bloemfontein-skare: nie 'n Pringle of Jeep-hemp in sig nie!
Ons kuier lekker, maar Das se geskenk aan Reinier was toe 'n arrestasie vir rusverstoring. Riempies van die slaghuis (wat maar 'n spit mag braai) reël dit, want hy ken die polieste en is Sotho vlot magtig.