Friday, 25 May 2007

Dis mos nou 'n lapa!

"Oe, om 'n lapa te hê". Menige ware Afrikaner se groot versugting. Maar dit hoef nie net 'n droom te bly nie. Met 'n pen en papier, teerpale, klinkerstene en baie gras kan enigeen 'n windmaker-lapa bou, soos duidelik uit hierdie fotos blyk. Die pen en papier vir planne is opsioneel. 'n Vinnige skets agter op 'n pakkie 30 is meer as voldoende, want jy gaan dit mos sommer self bou. So het baie huise in die suburbs 'n lapa lank voor die eienaar dink aan 'n tweede badkamer of uittreeannuiteite.

Hierdie spoggerige lapa het ek in Fichartpark gewaar. Sy baas is duidelik nie iemand wat klein dink nie. Wat nie te sien is in die fotos, is die Springbokvlag en 'n LION-banier. Bier en rugby is sekerlik twee passies in die trotse eienaar se lewe. Ek is seker daar is iewers 'n ou SA- en dalk ook 'n Vrystaatvlag. Die uiterlike statuur van die konstruksie dui op 'n sleeper-kroeg aan die binnekant wat deur al die vriende beny word. Agter die kroeg is daar ten minste 'n afdruk van Joel Stranksy se drop in 1995, dalk 'n paar bokkoppe, kepse en 'n getekende foto van 'n seëvierende Cheetah-span. Dit ly nie twyfel dat daar Saterdae-aande tot ounag gekuier word op partytjiestaatmakers soos "Lekker Stoutgat Treffers", Patroos Lewis, Die Campbells en deesdae Bok van Blerk nie. Hier word SAB en Klipdrift ondersteun. Mamma sorg vir peanuts, chips en dip voor daar wors gebraai word. Die skoorsteen vir die binne-braai wys middelvinger vir almal wat aan onbenullighede soos herverkoopwaarde en estetika dink. Buitendien, niemand mors met iemand wat sy eie devilsfork sweis en sy doublecab self diens nie.

Soek self die volgende suburb-elemente: sementheining, kamma-palmboom, 'n opslaanafdakkie vir die ventertjie, aanbrouing met verskillende stene en 'n selfgemaakte hek vir die jaart met 'n gaping waardeur die boerboele gevaar van ver kan sien kom.

Hierdie is heel gereeld die mense wat ons karre diens, ons riole se verstoppings regmaak, ons DIY vir ons doen, heinings opsit en oor die algemeen die dinge doen wat ons nie kan doen of voor kans sien nie. Dit is die mense wat hulle werk deur regstellende aksie verloor het en nou noodgedwonge 'n tweede asem moes soek deur sy eie baas te word. Dit is die mense wat maklik as kommon geklassifiseer word. (Ons volkie dink mos maklik ons is beter as ons naaste). Maar dit is die mense wat betrokke by hulle kinders se opvoeding is, wat nie "kannie" ken nie en wat 'n groter kans het om gelukkig te wees as die wat blink karre ry, oorsee vakansie hou en in Euwelsig of Duimpie Naar woon. Hy is trots op sy lapa en dit is sy vesting teen die nuwe SA.

Friday, 18 May 2007

Cara is op die rol!

Vandag is ons na die pediater, Dr. Reynecke, vir Cara se ses weke ondersoek. Wat 'n aangename man. Cara groei soos 'n pampoenrank en weeg nou 5.6kg. Sy het 3.3kg met geboorte geweeg. Die pediater is tevrede en ons is trots. Life is (mostly) good.

Wie kan die klein kinders nie waardeer nie? Al is hulle totaal van ons afhanklik, gee hulle ons so baie.

Ons het ook vandag haar geboortesertifikaat gekry. Sy is dus nou in die sisteem. Pres. Thabo, jy beter hierdie land vir haar regmaak. Ons is nie tevrede met die stand van sake nie.

Thursday, 17 May 2007

Skandes in die kinderkamer

Cara is mal oor die helder muis wat Marieta vir haar gegee het en sy kan ure (wel, etlike minute ten minste) daarna staar. Anna-M het vandag 'n koei bygevoeg vir 'n bietjie meer stimulasie. Ek kon nie help om dadelik te merk dat die muis ook stimulasie in gedagte gehad het nie. Probeer nou 'n kind met trotse sedes grootmaak met sulke onwelvoeglike speelgoed. Let die koei se glimlag op.

Monday, 14 May 2007

Êrens in Clarens

Reinier word toe 40 en hy lyk nie 'n dag ouer as 39. Vir die groot geleentheid is ons na daardie goed-ontdekte juweeltjie in die Oos-Vrystaat, Clarens. Dit is die beste tyd van die jaar om te gaan want die jaar word mos nou "ryp in goue akkerblare". 'n Kaboedel gawe mense, insluitend 'n kookwater jazzband daag op. Tot my verbasing vir 'n Bloemfontein-skare: nie 'n Pringle of Jeep-hemp in sig nie!

Ons kuier lekker, maar Das se geskenk aan Reinier was toe 'n arrestasie vir rusverstoring. Riempies van die slaghuis (wat maar 'n spit mag braai) reël dit, want hy ken die polieste en is Sotho vlot magtig.

Alle eer aan Reinier - sy laaste woorde voor hy in die vangwa verdwyn: "Ek sal self inklim, laat die partytjie asseblief net aangaan". Dit som die man mooi op.

Wednesday, 09 May 2007

Verslag van 'n jag

Gus en Marike (van Chopped Tomatoes-faam) kom toe kuier van Londen en land bleek in Bloemfontein op 6 Mei. Marike lyk soos boere-adel, soos altyd, met haar crocs en stringetjie pêrels. Terstond is ons saam na 'n pragplaas, Rooipoort, tussen Noupoort en Strydenburg, baba inkluis. Daar word die eerste aand heerlik gebraai met ver in die verte 'n jakkals wat roep, net soos in die liedjie. Daar bly 'n bekoring aan die karoo wat mens nie maklik beskryf nie. Die landskap is tog nie mooi in die tradisionele sin van die woord nie. Miskien is dit omdat dit jou blootgestel laat voel, of omdat jy altyd ver van alles voel en daarom so maklik afskakel en ontspan. Die volgende oggend vroeg, wel nadat ons Gus aan die gang gekry het, sit ons af na die skietbaan om die gewere in te stel en die hele plaas so te waarsku van ons nadere koms.

Gus trek eerste los (ons skiet nie van die bakkie af nie) en skiet 'n blesbok deur die nek met 'n geweer wat so vinnig is dat die bok dit nie eers agterkom nie. Die res van die oggend is ons agter die bok aan, te voet. Uiteindelik kon ons die bok klaarmaak teen vroegmiddag. Gus is gaar geloop met sy sandsakkie in die een hand en sy geweer in die ander. 'n Paar uur later is ons weer die veld in. Die keer is dit my en Richard, die rou gin-en-tonic, horse-and-hound-engelsman se beurt. Ek kon 'n springbok plattrek en was trots op my doodskoot. Richard was minder gelukkig en moes uiteindelik sy blesbok keelaf sny met sy "THIS is a knife" Siberiese jagmes. Wat die regte, maar moeilike ding is om te doen. So keer ons almal terug na basiskamp. Ek voel vir 'n ruk soos die groot, wit grootwildjagter wat ek glad nie is nie. Ek het nie die bloedlus van baie ander sogenaamde jagters nie, MAAR om die aand vleis te eet wat jy nie sommer maklik by Spar/Pick n Pay gekoop het nie en baie sweet gekos het, het my 'n gevoel van ewewig gegee. Dit is tog 'n voorreg om 'n dier in sy natuurlike habitat te sien en te weet dat die feit dat jy hom jag, dit moontlik maak vir die grondeienaar om diere te bewaar. Om 'n bok te soek en te bekruip dwing jou om fyn op te let na jou omgewing, baie meer as vanuit jou lugverkoelde 4x4. Jy ruik die hondepisbossies en sien die insekte skarrel en voel elke klip onder jou stewels.

Anna-M en Cara smee bande en word rustig deur die dag - Cara verras ons met haar eerste duidelike glimlag.

Die aand word daar weer gebraai, rooiwyn vloei en daar word wyd gepraat, meesal sinvol. Later met 'n skietlamp agter op 'n trokkie ('n hond drink uit 'n bakkie) die veld in. Ons sien 'n jong koedoe-ooi (of 'n "lady baby kudu" soos Gus aan Richard verduidelik), ribbokke, rooi hartebeeste, ribbokke, 'n steenbokkie, ystervarke, swartwildebeeste, elande, takbokke! en springhase wat vir Lizzy, die Aussie, soos baby-joeys lyk. Ons word bederf met 'n sterrehemel soos net die karoo kan. Ek voel verryk - goeie geselskap, die mense wie jy liefhet, lekker SA rooiwyn en perfekte karoonagte: wie kan kla?

Volgens my statistieke kom jy nooit teleurgesteld vanuit die karoo terug nie.