"Oe, om 'n lapa te hê". Menige ware Afrikaner se groot versugting. Maar dit hoef nie net 'n droom te bly nie. Met 'n pen en papier, teerpale, klinkerstene en baie gras kan enigeen 'n windmaker-lapa bou, soos duidelik uit hierdie fotos blyk. Die pen en papier vir planne is opsioneel. 'n Vinnige skets agter op 'n pakkie 30 is meer as voldoende, want jy gaan dit mos sommer self bou. So het baie huise in die suburbs 'n lapa lank voor die eienaar dink aan 'n tweede badkamer of uittreeannuiteite.
Hierdie spoggerige lapa het ek in Fichartpark gewaar. Sy baas is duidelik nie iemand wat klein dink nie. Wat nie te sien is in die fotos, is die Springbokvlag en 'n LION-banier. Bier en rugby is sekerlik twee passies in die trotse eienaar se lewe. Ek is seker daar is iewers 'n ou SA- en dalk ook 'n Vrystaatvlag. Die uiterlike statuur van die konstruksie dui op 'n sleeper-kroeg aan die binnekant wat deur al die vriende beny word. Agter die kroeg is daar ten minste 'n afdruk van Joel Stranksy se drop in 1995, dalk 'n paar bokkoppe, kepse en 'n getekende foto van 'n seëvierende Cheetah-span. Dit ly nie twyfel dat daar Saterdae-aande tot ounag gekuier word op partytjiestaatmakers soos "Lekker Stoutgat Treffers", Patroos Lewis, Die Campbells en deesdae Bok van Blerk nie. Hier word SAB en Klipdrift ondersteun. Mamma sorg vir peanuts, chips en dip voor daar wors gebraai word. Die skoorsteen vir die binne-braai wys middelvinger vir almal wat aan onbenullighede soos herverkoopwaarde en estetika dink. Buitendien, niemand mors met iemand wat sy eie devilsfork sweis en sy doublecab self diens nie.
Soek self die volgende suburb-elemente: sementheining, kamma-palmboom, 'n opslaanafdakkie vir die ventertjie, aanbrouing met verskillende stene en 'n selfgemaakte hek vir die jaart met 'n gaping waardeur die boerboele gevaar van ver kan sien kom.
Hierdie is heel gereeld die mense wat ons karre diens, ons riole se verstoppings regmaak, ons DIY vir ons doen, heinings opsit en oor die algemeen die dinge doen wat ons nie kan doen of voor kans sien nie. Dit is die mense wat hulle werk deur regstellende aksie verloor het en nou noodgedwonge 'n tweede asem moes soek deur sy eie baas te word. Dit is die mense wat maklik as kommon geklassifiseer word. (Ons volkie dink mos maklik ons is beter as ons naaste). Maar dit is die mense wat betrokke by hulle kinders se opvoeding is, wat nie "kannie" ken nie en wat 'n groter kans het om gelukkig te wees as die wat blink karre ry, oorsee vakansie hou en in Euwelsig of Duimpie Naar woon. Hy is trots op sy lapa en dit is sy vesting teen die nuwe SA.
No comments:
Post a Comment